GSG is ‘n Gemeente wat bestaan uit en deur die Genade van God, nie ter wille van onsself nie maar…
- Eerstens tot eer van God…
- Tweedens ter wille van die wêreld wat verlore is in sonde en die genadige redding van Jesus Christus nodig het en…
- Derdens tot opbou van die gelowiges wat Jesus Christus aanvaar het as Verlosser en Koning van hul lewens.
ONS IS SOOS KOFFIE…
Mense reg oor die wêreld drink koffie.
Mense vanuit alle kulture drink koffie.
Koffie is voorwaar sonder grense.
Hier by ons noem ons dit “Boeretroos”
GESELS
Dis lekker om soms op jou eie, in stilte, rustig ‘n beker koffie te geniet maar dis ook heerlik om algeselsend rondom ‘n koffiepot te kuier. Dis wat ons op Sondagoggende doen. Tydens ons eredienste gesels ons saam oor die Woord van God, vanuit die Woord van God. Dis informeel, dis gemaklik, elkeen kan deelneem. Meeste van die tyd sing ons saam, ons bid saam, lag saam en ja, soms huil ons saam. As dit nodig is verander ons alles en doen sommer nuwe dinge.
VRIENDSKAP
Ons weet dat die Evangelie dié verskil maak in mense se lewens. Dit help egter nie om iemand wat nie wil koffie drink, te forseer en dit in sy keel af te druk nie. Dit sal in elk geval ‘n vermorsing wees van goeie koffie. Daarom glo ons dat die beste manier om ons goeie nuus met iemand te deel, rondom ‘n beker koffie is. Dis waar ons verhoudings bou…vriende maak…rondom die koffiepot…en so moet ons die reg verdien om iemand te kan “vertel” wat die verskil in ons eie lewens gemaak het.
SKINK
Dit laat ‘n mens sommer goed voel om vir iemand ‘n lekker koppie koffie te skink. In plaas daarvan om te wag op die kelner, word ons self die skinker en bedienaars en skink ons graag vir hulle wat dors het. Daar is so baie maniere waarop mens dit kan doen maar ons het gekies om hier onder ons eie mense maar ook onder die mense in die omgewing te gaan “skink”. Ons doen dit vir die kindertjies, ons doen dit vir hulle wat seergerky het, ons weet hulle het dit nodig.

