In die kerk is daar tradisioneel onderskei tussen Ouderlinge (Regeerders) en Diakens (Dienaars), alhoewel die werk van ouderlinge en diakens dikwels oorvleuel het.
Die woord wat met ouderling vertaal is kom uit die Hebreeus – Zaqen (Oudstes) en is gebruik om die leiers in die gemeenskap te beskryf, nie net in die geloofsgemeenskap nie maar ook in die sekulêre gemeenskap.
In Grieks was die woord Presbuteros, en die Diakens was die Diakonos wat dienaars beteken.
Die kerk het gebruik gemaak van hierdie bekende woorde in die alledaagse lewe om ook hulle leiers te beskryf.
Natuurlik praat ons nie meer in ons moderne tye van oudstes en dienaars nie. Ons het verskeie ander terme, bv. Bestuurders, Direkteure, Hoof Uitvoerende beampte en selfs vrywilligers, tesame met ‘n hele klomp ander benamings en titels.
Hier in GSG gaan dit nie vir ons oor titels, of ‘n spesifieke naam vir ‘n spesifieke werk nie, almal is leiers in die kerk en al verskil ons verantwoordelikhede van mekaar is daar ook baie oorvleueling, maar almal van ons is dienaars.
Dit gaan daarom vir ons eerder oor die kwalifikasie van elke leier.
Hier kan akademiese kwalifikasie wel van waarde wees maar Bybelse en geestelike kwalifikasies is baie belangriker.
Selfs ouderdom is nie die oorwegende faktor nie want daar is manne (en dames) wat al ver gevorderd is in jare maar wat baie minder kennis en wysheid het as jonger mense.
Paulus het vir Timoteus bemoedig omdat hy nog jonk in jare was.
1Ti 4:11-12 Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer. (12) Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.
In GSG hou ons dit so eenvoudig as moontlik.
Om te kan onderskei wie watter rolle vervul praat ons van die Bestuur en die Bedieningsleiers.
Die Bestuur is verantwoordelik vir die neem van besluite rondom beleid, lering en die rigting waarin die Gemeente beweeg asook vir die uitvoer van die meeste daaglikse verantwoordelikhede.
Om die uitvoering van hierdie werk te vergemaklik onderskei ons tussen verskeie werksaamhede wat ons in groepe verdeel. So byvoorbeeld, vorm die orkes ‘n groep, die bemarkers vorm ‘n groep, daar is ‘n groep wat help met die bemoediging van lidmate, ens.
Elkeen van hierdie groepe vrywillige dienaars (wat ons diakonos of diakens kan noem as ons wil) moet egter begelei en bestuur word en daarvoor het ons leiers nodig. Dit is ons Bedieningsleiers.
Die Bybel gee vir ons verskeie vereistes waaraan leiers moet voldoen.
Ouderlinge en Diakens se vereistes oorvleuel en eintlik behoort alle gelowiges uiteindelik aan al hierdie vereistes te voldoen.
Wat is hierdie vereistes?
Vanuit 1 Tim.3 en Tit.1 kry ons die volgende vereistes:
Hulle moet onberispelik wees en ‘n goeie reputasie binne en buite die Gemeente hê.
Moet getrou in die huwelik wees met gelowige en gehoorsame kinders.
Nugter, Verstandig, Beskaaf, Gasvry, Regverdig, Vroom, Selfbeheers, Inskiklik, Vredeliewend
In staat om ander te leer en aan te moedig en argumente van teenstanders te kan weerlê.
Nie… Verslaaf, Rusiemaker, Geldgierig of ‘n jong gelowige nie.
Terwyl ons al hierdie vereistes opnoem besef elkeen van ons dat ons nie altyd daaraan voldoen nie. Is ek regtig verstandig genoeg, vredeliewend genoeg, of regverdig genoeg?
Elkeen van ons sal iets kan vind waarin ons steeds nodig het om te groei.
Met hierdie vereistes word nie bedoel dat ons perfek daarin moet wees voordat ons as leiers kan dien nie. Daar moet wel by ons ‘n positiewe gesindheid wees teenoor elkeen van hierdie kwaliteite en daar moet ‘n strewe wees om op elkeen van hierdie terreine te groei.
As daar egter iets negatief is wat my lewe oorheers, soos ‘n verslawing, ‘n bakleierige gees, of geldgierigheid, sou dit beter wees om liewers eers oorwinning op hierdie terrein te kry voordat ek as leier dien.
Daarom is dit nodig dat elke persoon wat ‘n kandidaat vir leierskap is, hom- of haarself sal ondersoek en seker maak dat jy met ‘n skoon gewete en met vrymoedigheid toegewy kan word as leier.
